SATIB Certified - Tourism Insurance Compliant
SATSA Bonded
 
onze reizen
Onze Reizen:
GASVRY DEUR SUID-AFRIKA
20 DAE PRIVé BEGELEID of SELF-DRIVE
Namibië / Botswana
HOOGTEPUNTE VAN NAMIBIë
14 DAE BEGELEIDE REIS
Sien ook ander reise onder ENGLISH

GASVRY DEUR SUID-AFRIKA
20 DAE PRIVé BEGELEID of SELF-DRIVE

Die reis is bedoel as ‘n RIGLYN
u kan kies vir ‘n begeleide reis of ‘n self-drive, met tussenvlug of overland, ons stel vir u ‘n reis saam volgens u belangstelling -
op maat gemaak!

Hierdie reis langs die hoogtepunte van Suid-Afrika is vir u saamgestel deur Suid-Afrikaners wat die land deur en deur ken en met trots aan u bekendstel – u kan daarvan seker wees dat ons u die mooiste plekkies gaan laat sien en beleef! Die reis neem u na wildparke, die natuurskone Panorama-roete met die Blyderivier Canyon, God’s Window en ander skitterende uitsigpunte, die majestueuse Drakensberge, Swaziland en Kwazulu-Natal, dwarsdeur die Groot Karoo, die Tuinroete, die wynroete en eindig in die Moederstad – Kaapstad.

Benewens die natuurskoon, die dierelewe en die verskeidenheid van kulture, val die klem van hierdie reis grootliks op gasvryheid, dié uitstaande kenmerk waarvoor Suid-Afrikaners bekend is. U gaan dan ook meestal tuis in gesellige “gastehuise”, wat omskryf kan word as privaat huise, gewoonlik met 6-8 en-suite kamers, smaakvol ingerig en gewoonlik deur die eienaars self bedryf. Elke akkommodasie is van hoogstaande gehalte en met sorg deur ons uitgekies, en die eienaars is aan ons persoonlik bekend. U maak dus kennis met die mense van die land self, en u gasheer of gasvrou staan u met raad en daad by en vertel u van allerlei interessante gebeure in die omgewing. Die tempo van die reis is rustig en u oornag meestal tweemaal op dieselfde plek.

DAG 01
Aankoms Johannesburg, O R Tambo-lughawe. U word persoonlik ontmoet deur die familie van Nieuwkerk of een van hulle medewerkers.
Transfer na Pretoria.
Oornag: Cascades Gastehuis in Pretoria.

DAG 02
Na ontbyt vertrek u na Soweto, die grootste swart woongebied in SuidAfrika, waar u kan kennis maak met die plaaslike inwoners en verskeie interessane plekke besoek, o.a die Hector Pietersen Museum, opgedra aan die slagoffers van die 1976 opstande in Soweto. Na ‘n tradisionele middagete in die “township” terug na Pretoria vir ‘n stadstoer met besoeke o.a. aan die Voortrekkermonument, Kerkplein en Paul Krugerhuis.
Oornag: Cascades Gastehuis

DAG 03
U vertrek met die N4 via Witbank en Middelburg na die Laeveld van Mpumalanga met sy skitterende natuurskoon en vandag besoek ons o.a Dullstroom en Lydenburg, een of meer van die watervalle in die omgewing van Sabie, en eindig in die mooi klein dorpie Graskop.
Oornag: Graskop Hotel

DAG 04
Vandag volg ons die Panorama-roete langs die kruin van die Drakensberge met skitterende uitsig oor die Blyderivier Canyon, God’s Window, Bourke’s Luck Kolkgate en die Drie Rondawels. U gaan laatmiddag die bekende Nasionale Krugerwildtuin binne by die Orpen-hek en maak al gou kennis met die eerste wilde diere en voëls in hierdie beroemde wildreservaat.
Oornag: ruskamp in die Krugerpark.

DAG 05

Volle dag wildbesigtiging in die Krugerpark van noord na suid, op soek na die Groot Vyf: Olifant, Buffel, Renoster, Luiperd, Leeu! Maar u gids vertel u ook alles van die talryke kleiner en interessante diere en voëls. En laatmiddag/aand kan u in ‘n ope 4x4 voertuig op ‘n nagrit gaan om die nagdiere op te spoor (OPTIONEEL).
Oornag: ruskamp in die Krugerpark.

DAG 06

Weereens ‘n volle dag wildbesigtiging in die Krugerpark.
Oornag: ruskamp in die Krugerpark

DAG 07

Vroegoggend u laaste rondrit, verlaat dan die Krugerpark en gaan die grens oor na Swaziland, een van die laaste koninkryke in Afrika en u maak kennis met die vriendelike en kleurvolle Swazi-volk. U besoek die bekende Ngwenya-Glasblasers asook ‘n tipiese Swazi-Markt.
Oornag: Mantenga Lodge.

DAG 08

Weer terug oor die grens na Suid-Afrika, dan deur Kwa-Zulu Natal na Hluhluwe, laatmiddag ‘n OPTIONELE gamedrive met ‘n 4x4 ope voertuig deur die Hluhluwe Wildreservaat, bekend om sy swart- en witrenosters. Dan verder na St Lucia Wetlands – UNESCO Werelderfgoed.
Oornag: Lidiko Lodge

DAG 09

Vandag het u tyd om verskeie OPTIONELE uitstappies te doen: ‘n boottocht op die St Lucia-meer met sy talle krokodille en seekoeie (nijlpaarde) en pragtige voëls, of ‘n besoek aan die tradisionele Zulu-dorpie Dumazulu, om kennis te maak met die trotse Zulu-volk se tradisies en leefwyse.
Oornag: Lidiko Lodge

DAG 10

Verder met die kus langs na Ballitobaai aan die Natalse Noordkus, res van die dag vry om te geniet aan die strand van die warm Indiese Oseaan.
Oornag: Sak’nPak Gastehuis.

DAG 11

Vertrek na ontbyt na Durban Lughawe vir u vlug na Port Elizabeth.
By aankoms word u weer ontmoet deur u gids, en vertrek na die nabygeleë Addo Nasionale Olifantpark. Wildbesigtiging res van die dag.
Oornag: Addo Olifantpark.

DAG 12

Vandag begin u reis deur die natuurskone Tuinroete, deur verskeie bergpasse en die
Tsitsikamma-woud tot waar die Stormsrivier in die see uitmond – onvergelyklike natuurskoon! Verder na Knysna en onderweg besoek u o.a. die “Groot Boom”, ‘n honderde jare oue geelhoutboom. U gastehuis is hoog geleë met ‘n fantastiese uitsig oor die Knysna strandmeer tot by die bekende “Heads”, die skilderagtige ingang na die hawe.
Oornag: Brenton Hill Gastehuis.

DAG 13

Na ontbyt kan u die Knysna-omgewing verken. In oorleg met u gids kan u verskeie OPTIONELE uitstappies maak, een van die gewildste is die boottog met die John Benn Ferry na die Featherbed Natuurreservaat. Of u kan die dag deurbring by die Waterfront met sy gesellige restaurantjies en talle winkels, ideaal vir inkopies. Knysna is ook heel bekend om sy oesters en mossels!
Oornag: Brenton Hill Gastehuis

DAG 14

Oor die Outeniqua-pas na Oudtshoorn vir ‘n besoek aan die Kango-grotte, ‘n enorme druipsteengrotte kompleks in die Swartberge. Oudtshoorn is van oudsher bekend om die struisvogelboerderijen, u word vir ‘n rondwandeling geneem en mag selfs op ‘n volstruis ry!
Oornag: Thabile Lodge

DAG 15

Vandag ry ons die onvergelyklike sirkelroete deur die Swartbergpas – eers deur die skitterende Meiringspoort met 26 bruggies (overgange) oor die kronkelende rivier, tussen die Kaapse Plooiingsgebergte deur tot by die Karoodorpie Prince Albert, dan terug na Oudtshoorn oor die asemrowende Swartbergpas – ‘n ervaring wat u nie mag mis nie!
Oornag: Thabile Lodge

DAG 16

Na ontbyt ry ons verder met die toeristiese Route 62 via Barrydale en Swellendam na die Stellenbosch-omgewing. Onderweg begin u al die wingerde (wijngaarden) opmerk, asook die huise wat in die bekende Kaaps-Hollandse styl gebou is.
Oornag: Rusthuiz Gastehuis in Stellenbosch.

DAG 17

Stellenbosch en omgewing – verken die stadjie te voet, doen inkopies by Oom Samie se winkel, besoek die Dorpsmuseum, of besoek een van die bekende wynlandgoedere in die omgewing.
Oornag: Rusthuiz Gastehuis.

DAG 18

Ons nader die einde van die reis, die moederstad, Kaapstad. Ons besoek die Kirstenbosch Botaniese Tuine, asook die stadsentrum met die Kasteel, die eerste gebou wat deur Jan van Riebeeck opgerig is. Indien die weer gunstig is kan u met ‘n kabelkarretjie teen Tafelberg opgaan (OPTIONEEL).
Oornag: Huijs Haerlem Gastehuis

DAG 19

‘n Volle dag op die pragtige Peninsula-roete, na Kaappunt en Kaap die Goeie Hoop Natuurreservaat, met onderweg ‘n besoek aan The Boulders om die pikkewyne (penguins) te besigtig. En vanaand na die gesellige Victoria & Alfred Waterfront vir inkopies en restaurante te kus en te keur!
Oornag: Huijs Haerlem

DAG 20

U laaste dag vir inkopies in Kaapstad! Of ‘n besoek aan Robbeneiland, of ‘n laaste besoek aan Bloubergstrand, waar u pragtige foto’s kan neem van Tafelberg. U gids besorg u betyds by die Lughawe vir u terugvlug. EINDE VAN REËLINGS.

Hierdie reis kan ook aangepas word vir ‘n overland toer ipv met ‘n tussenvlug – kontak ons vir besonderhede en pryse.

INGESLUIT IN DIE PRYS

  • Persoonlike ontvangs op lughawe
  • Akkommodasie soos hierbo genoem, of gelykwaardig
  • Alle ontbyte
  • Ekskursies en toegange soos in die program aangegee
  • Vervoer in ‘n luukse mikrobus met airconditioning
  • Begeleiding deur ‘n gekwalifiseerde Nederlands/Afrikaans-sprekende reisgids

NIE INGESLUIT IN DIE PRYS

  • *Alle vliegkaartjies
  • Persoonlike, mediese en annuleringsversekering
  • Alle alkoholiese drankies
  • Ander etes
  • Portiere
  • Fooitjies – in restaurants 10%, gidse – vryblywend en na goeddunke
  • Persoonlike uitgawes bv. telefoonoproepe
  • Opsionele ekskursies soos in program genoem bv. Featherbed Natuurreservaat, Tafelberg,
  • Robbeneiland ens.

*Vir vliegkaartjies beveel ons aan dat u ons kollega Beins Reizen in Oosterhout kontak www.beins.nl

PRYSE OP AANVRAAG.

Kontak ons by info@exclusivsafaris.co.za vir meer inligting.